Wintertuin met Protek

Wintertuin met Protek

Wintertuin:

Die winter is goed op dreef, maar dit beteken nie dat jy jou tuinhandskoene en -gereedskap moet wegpak nie.  Ons is in die gelukkig posisie om heerlike, sonnige dae gedurende die winter te hê, ideaal vir tuinmaak.

Die 21ste Junie is die wintersonstilstand met die kortste dag en die langste nag van die jaar.  Die lente is net om die draai en daar is ‘n hele paar takies waarmee jy jouself kan besig hou.

Werk kompos en organiese misstowwe in jou grond:

Dit is belangrik om te onthou dat plante beide kompos en kunsmis/misstof benodig.  Kompos help om die dreinering van die grond te verbeter en dit sit ook noodsaaklike bakterieë terug in die grond wat die plante help om die voedingselemente, veral stikstof (N) wat in die kunsmis is, te kan opneem. Dit is belangrik om die kunsmis en kompos ten minste 30 cm diep in die grond in te werk. 

Protek se NutriGreen-reeks bestaan uit organiese- en organiesgebaseerde korrelmisstof gemaak van verkomposteerde pluimveemis wat met koolstof (C) verryk en vry van patogene, parasiete en onkruidsaad is.

Organiese misstof is van nature stadigvrystellend en die koolstof verbeter die verbinding van die plantvoedingselemente met jou tuingrond en verhoed dus dat die misstof uit die grond loog. 

Dit bevorder die aktiwiteite van mikro-organismes in die grond wat op hul beurt die plantvoedingselmente afbreek tot in die vorm waar dit beskikbaar is aan plante om te gebruik. 

Die NutriGreen-reeks bevat die 3 belangrikste plantvoedingselemente nl:  stikstof (N), fosfaat (P) en kalium (K) asook al die mikro-elemente wat die plante benodig vir gesonde groei, bv yster (Fe), mangaan (Mn), koper (Cu), sink (Zn) en boor (B), ens.

Plante groei in die winter en dit is dus noodsaaklik om jou hele tuin gedurende die winter te voed. Die Protek NutriGreen-reeks organiese en organiesgebaseerde misstof is ideaal vir wintervoeding.

Snoei:

Snoei gee nuwe lewe aan plante. Rose en vrugtebome word gesnoei om die vorm van die struik of boom te behou, hoogte te beperk en om dooie of siek hout te verwyder. Snoei moedig nuwe en gesonde groei aan vir beter gehalte blomme en vrugte. Verder raak jy ontslae van winter- en rypskade.

Rose en vrugtebome kan tussen die laaste twee weke van Julie en die eerste week van Augustus in warmer areas gesnoei word. Waar dit egter nog straf ryp, moet die snoei oorstaan tot Augustus. Ornamentele grasse kan ook vroeg in Augustus gesny word. 

Snoei van rose en sagtevrugte kan in 2 dele opgedeel word:

Die eerste deel is dieselfde vir beide groepe:

Verwyder alle dooie en siek takke, asook oorkruis takke tot op die basis van die plant. Beide vrugtebome en rose moet altyd in die vorm van ‘n kelk of ontvangende hand gesnoei word om te verseker dat die middel van die plant oop is aangesien dit die absorbering van lig verbeter asook die beweging van lug deur die plant wat help om siektes te verminder.

Die tweede deel van die snoeiproses is die is terugsny van die gesonde stingels, en is eintlik doodeenvoudig.

Vrugtebome – Die tipe hout waarop ‘n vrugteboom sy vrugte dra, bepaal die lengte van die takke wat oorbly nadat jy vorm aan die boom gegee het. Appel- en peerbome dra hul vrugte op ou hout daarom kan die takke goed terug gesnoei word tot daar net 2 ogies oor is op die tak. Maak seker dat jy altyd die takke afsny bokant ‘n ogie wat na buite groei. Perske-, pruim- en appelkoosbome dra hul vrugte op nuwe hout, daarom word hul takke teruggesny tot naby aan die basis van die jong lote.

Met rose behou jy altyd 3, 5 of 7 gesonde jong stingels wat van die basis af groei en sny al die ander takke af. Daarna sny jy die stingels wat jy op die plant behou het, min of meer twee derdes terug. Maak ‘n skuins snit net bokant ‘n gesonde ogie of groeipunt wat na buite wys. Die snit moet weg wys van die ogie af om te verhoed dat daar vog opgaar wat siektes op die groeipunt kan veroorsaak.

Elke snoei-operasie vereis skerp toerusting wat skoon sny. Happerige, gekneusde snoeiwonde bevorder die besmetting van swaminfeksies. Dit is ook belangrik om jou snoeitoerusting goed te ontsmet voordat jy die volgende plant begin snoei om die verspreiding van swamme te vermy. ‘n Mengsel van 5ml Jeyesfluid per 1 liter water werk goed as ‘n ontsmettingsmiddel vir tuingereedskap.

Baie belangrik wanneer plante gesnoei word, is dit baie belangrik om die snoeiwonde met ‘n mengsel van Sprayfilm 10 en Mycoguard te behandel om swamsiektes te verhoed. Mycoguard is ‘n kontakswamdoder wat voorkomend gespuit kan word teen swamsiektes soos antraknose, botritisvrot, blaarvlek, bruinroes, donsige skimmel, dollarvlek, vroeë roes, laatroes en swartvlek.

Behandel jou grasperk:

Aangesien ongeveer 80% van meeste tuine met gras beplant is, laat ‘n goed-versorgde grasperk die hele tuin sommer netjies lyk. Dit is nou die regte tyd om met ‘n goeie versorgingsprogram te begin indien jy jou tuin hierdie somer op sy beste wil laat lyk.

Raak ontslae van breëblaaronkruid op jou grasperk. Dit is moeilik om gedurende die somer, wanneer jou grasperk aktief groei, alle onkruid raak te sien en nou is dit die ideale tyd om van hierdie onkruide ontslae te raak aangesien hulle nou mooi sigbaar op jou dormante grasperk is.  Versus en Scatterkill for Weeds is selektiewe breëblaaronkruiddoders wat op grasperke, soos kikuyu en LM-gras, gebruik kan word. Vir die sagter, immergroen grasperke kan Pure Lawn toegedien word. 

Graswortels het lug nodig daarom is dit baie belangrik om na die winter jou grasperk te ontmat. Sny die gras ‘n bietjie dieper as normaal weg en hark al die dooie blare en stingels onder die groen gras uit. Daarna moet jy die grond deurlug. Dit word gedoen deur gaatjies van sowat tien sentimeter diep in jou grasperk te maak. Hierdie takie kan met ‘n tuinvurk aanpak word wat heel maklik sal wees wanneer jy die grond vooraf nat gemaak het.

Ná ‘n koue winter moet die gras met behulp van die regte bemesting aangemoedig word om te groei. Voed die gras met Protek General Fertiliser 2.3.2 of NutriGreen Gwano Pellets; beide is ‘n gebalanseerde formules wat die groei van blare en wortels stimuleer. Wanneer die gras sterk groei, kan jy begin om ‘n hoë stikstof-bemesting soos Lawn & Foliage Fertiliser 7.1.3 of Nitrogreen KAN of NutriGreen Gro Green afwisselend elke 6 weke op jou gras toe te dien. Maak seker dat jy die stikstofryke kunsmis volgens die aanwysings op die etiket toedien, aangesien te veel stikstof die gras kan brand. Onthou om goed nat te lei nadat die bemesting toegedien is. Gras benodig meer voeding in die skadukolle onder bome as in die son omdat die gras hier met die bome en struike moet meeding vir voeding. Protek se Guanoflo is ‘n organiese bemesting wat elke 2 weke toegedien kan word en is ideaal veral op die skadukolle wat ekstra voeding benodig.

Indien jou grasperk ongelyk en onegalig is, kan dit reggestel word deur ‘n ligte bolaag “lawn dressing” oral op die gras te strooi. Dit is belangrik om nie enige tipe grond te gebruik nie, want dit kan dalk vol onkruidsaadjies en siektes wees. ‘n Goeie gehalte deklaag help ook om die dreinering van jou grond te verbeter.

General 2-3-2(14) Group

Plant:

Winter is die ideale tyd om vrugtebome te plant. Begin deur die gate behoorlik voor te berei. Maak seker dat die gat diep en groot genoeg is.  Maak dan nat. Voeg kompos en NutriGreen Gwano Pellets by die grond wat die gat vul. Plant bome soos appels, pere, perskes en nektariens.

Junie is ook ‘n goeie tyd om bome in jou tuin te skuif. Berei die gate voor soos hierbo. Moenie te veel van die grond rondom die wortels verwyder nie. Plant die bome op dieselfde hoogte as voorheen in u tuin om enige stres te verminder.

Raak ontslae van ongewenste bome in jou tuin. Sny die boom tot op kniehoogte en behandel die stomp met 20ml Triclon gemeng in 1 liter diesel. Dit sal verhoed dat die boom weer nuwe takke spruit.

Daar is geen rede dat jou wintertuin nie kleurvol kan wees nie. Saailinge soos papawers, viooltjies, gesiggies, primulas, en leeubekkies is geredelik by kwekerye beskikbaar en sal onmiddellik jou tuin opkikker. Plant dit in blombeddings, potte, vensterbakke en hangmandjies. Voed elke 3 weke met Protek Guanoflo.

‘n Groot verskeidenheid groente groei in koeler toestande. Saai wortels, radyse en beet tot aan die einde van Augustus in twee weke intervalle om sodoende ‘n konstante oes in die lente te verseker. Plant saailinge soos ertjies, brokkoli, blomkool, brusselse spruitjies, uie en blaarslaai. 

 

Beskerming:

Hoewel plante minder water gedurende die winter benodig, is dit belangrik om tuine steeds gereeld water te gee. Die beste tyd om plante in die winter nat te maak, is in die middel van die oggend sodat hulle droog word en die grond weer warm word voordat dit donker is.  Indien plante te laat in die middag natgemaak word, kan die wortels as gevolg van lae grondtemperature beskadig word.

Om die grond warm en vogtig te hou gedurende die winter, veral met rypgevoelige plante soos Fuschias, kan ‘n deklaag growwe kompos of bas rondom die wortels gestrooi word. Los blare wat van die bome afval, kan ook gebruik word. Dit is egter belangrik om blare rondom vetplante, grasperke en saailingbeddings te verwyder omdat dit plante kan versmoor of swaminfeksies veroorsaak. ‘n Breë spektrum swamme kan met Protek se Mycoguard of Tenazole behandel word. Mycoguard is ‘n kontakswamdoder vir voorkomende beheer van swamme (dit vernietig die spore van swamme) terwyl Tenazole ‘n sistemiese swamdoder is wat voorkomend sowel as genesend toegedien kan word. 

Dit is noodsaaklik om rypgevoelige plante met ‘n rypdoek wat by meeste kwekerye beskikbaar is, te bedek. Dit is belangrik om die rypdoek nie te styf om die plante vas te maak nie aangesien dit die stam kan beskadig. Maak ook seker dat die rypdoeke op jou plante nooit nat word wanneer jy water gee nie, aangesien dit sal veroorsaak dat die plante in die nag vries.  Hessian kan ook vir hierdie doel gebruik word.

Beskerm jou konifere teen die gevreesde Italiaanse sipresluis. Protek Meridian is ‘n uiters doeltreffende, sistemiese produk wat ‘n verskeidenheid tuinplae, onder andere die Italiaanse sipresluis, beheer. Meridian word in gerieflike, wateroplosbare sakkies verpak, dus is daar geen hantering of afmeting van die produk. Die veiliger, omgewingsverantwoordelike groenbandformulasie bied baie vinnige beskerming (binne 7 dae) en langdurige beheer. Meridian word as voorkomende en genesende behandeling teen italiaanse sipresluise toegedien.

Meridian word gerieflik en maklik deur middel van gronddeurweking by die wortelarea van plante of as ‘n blaarbespuiting toegedien. 

Wees ook op die uitkyk vir miere om jou sipresse aangesien hulle ‘n aanduiding is dat die italiaanse sipresluis aktief is. Die miere “melk” die luise vir heuningdou wat as ‘n voedselbron vir die miere dien. Die heuningdou kan ook ‘n sekondêre swaminfeksie veroorsaak (swart roetvoorkoms). Behandel voorkomend met ‘n sistemiese swamdoder, soos Protek Tenazole. Ongelukkig is die skade wat deur hierdie insekte veroorsaak word, eers in Oktober sigbaar (bruin, dooie take en blare); dit is dus baie belangrik dat jy jou plante voorkomend behandel.  

Rotte en muise is baie aktief gedurende die winter aangesien hulle op soek is na kos en ‘n geskikte plek om te bly, gewoonlik in ons huise en tuine. Daar is ‘n afname in die beskikbaarheid van kos in die winter en ons huise bied ‘n alternatiewe spens vir hierdie plae. Benewens die gesondheidsgevare wat hulle inhou, kan rotte en muise groot skade aan ons eiendom rig.

Rotte verteer daagliks die ekwivalent van 10% van hulle liggaamsmassa en besoedel ons kos en die omgewing met hulle urine, stoelgang en hare.  Hulle is ook draers van ‘n aantal siektes soos salmonella, swartkoors en die buboniese plaag, om net ‘n paar te noem. Onder ideale toestande, kan 2 rotte binne ‘n oogwink tot 300 vermeerder.

‘n Rotlokaas is die mees doeltreffende manier om van selfs die moeilikste besmetting ontslae te raak. Protek Kill All en Rodex knaagdierdoders is enkelvoeding-lokaas wat ‘n anti-koagulant bevat. Anti-koagulante voorkom bloedstolling en verdun die bloed van teikendiere. ‘n Dodelike dosis kan in ‘n enkelvoedingsessie ingeneem word, maar die dood kom gewoonlik 4 tot 5 dae later. Vir akute besmetting, kan dit nodig wees om tot soveel as drie tot vier keer lokaas uit te sit.

Handige wenke:

  • Moet nooit knaagdoders met kaal hande hanteer nie
  • Verwyder hondekos aangesien dit Vit K bevat, ‘n teenmiddel vir teenbloedstolmiddels
  • Gebruik vloeibare lokaas waar kos volop is en pille of wasblokkies waar daar ‘n voedseltekort is
  • Vir veilige toediening, maak gebruik van ‘n lokaasstasie

Hierdie winter, trek jou tuinklere aan, skakel die TV af en kry die hele gesin in die tuin. Dit is gesonde oefening wat help om die winterspekkies in toom te hou!

Alle Protek produkte nou beskikbaar by Garden World!