Versorging van jou plante

Ek praat gereeld van verskillende gifstowe wat ‘n mens kan gebruik teen plae in en om die huis. ‘n Vraag wat ek gereeld kry is, kan insek doders en fungus doders gemeng word? Die antwoord is NEE. Om veilig te wees lees die voubiljet, en as dit enigsins moontlik is, sal dit in die voubiljet genoem word. Verkieslik word ‘n insek doder en ‘n fungus doder ‘n paar uur of selfs ‘n dag uitmekaar gespuit.

Wat wel belangrik is, is dat verskillende spuitkanne gebruik moet word vir verskillende gif tipes! As jy net een spuitkan het en jy moet onkruid doders, insek doders en fungus doders met dieselfde kan spuit, moet jy baie seker maak dat die kan goed uitgewas word na elke verskillende spuit toedienning. Gebruik lou warm water en ‘n skottelgoed wasseep om die kan uit te was, en spoel jou kan met ‘n sout oplossing daarna uit. Indien daar ‘n milligram plant doder in die spuitkan oorbly, kan jy jou plante onbewustelik vergiftig en doodmaak.

Ek beveel mense altyd aan om ‘n klein drukspuit te kry vir in en om die huis in plaas van een van die tipes wat jy heeltyd met die hand moet pomp. Dit is ook baie belangrik om gedurende die koeler tyd van die dag te spuit, om te verhoed dat die gif nie net eenvoudig verdamp of die plante brand nie. Probeer ook altyd om nie te spuit as die son op die plante skyn nie, meeste insek en fungus doders word deur die son afgebreek en sal dan hierdie oefening heeltemal nutteloos maak.   

Talle tuiniers kontak my gereeld met hul sitrus probleme, met knoppies op die blare of ‘n fungus wat onder die blare groei. Hierdie verskynsel is eintlik bladvlooi (Psylla) en word veroorsaak deur ‘n mikroskopiese klein insek. Die knoppies word veroorsaak deur insekte wat die jong blare steek sodra die blaartjies begin ontwikkel.  As jy jou boom dan spuit of behandel teen bladvlooi, maak jy die insek wat die skade doen en sy eiers dood. Die ouer blare wat klaar vol knoppies is sal nooit herstel nie, maar ten minste sal die nuwe blare gesond wees. Die behandeling moet gewoonlik herhaal word. 

‘n Produk soos Complete 350SC van Protek kan gebruik word en moet na twee maande herhaal word en dan een maal per jaar. Aphicide van Efekto werk baie vinniger, maar dit hou nie lank nie so mens moet dit elke drie weke spuit.

Met die toediening van enige gifstof op vrugte en groente, is dit baie belangrik om na die wagperiode na toediening op te let. Enige gifstof neem ‘n sekere aantal dae om uit die plant se sisteem uit te werk, en dit is die wagperiode, of weerhoudings periode.

Die swamme wat op die onderkant van die blare voorkom groei eintlik op die taai afskeiding wat die bladvlooi en plantluise afskei. Sodra die insekte doodgaan, sal die swamme ook vrek omdat hulle niks meer oor het om op te lewe nie. Hierna kan jy die boomblare met ‘n tuinslang met sterk druk afspuit.

Laat somer is steeds gunstig om groei uit jou plante te kry. Dien ‘n algemene kunsmis soos Wonder 2:3:2 oor jou hele tuin toe. As jy nog struike het wat mooi blom, soos Hibiskusse en Rose kan jy ‘n Flower Power van Protek gebruik en waar jy sterker wortels nodig het kan ‘n 3:2:1 van Wonder toegedien word.

Met die hitte van die afgelope maande in Gauteng, was baie plante onder hitte spanning gewees. Iets wat ons ook nie altyd aan dink nie, is dat die temperature wat aangemeld word in die skadu geneem word en dat meeste van ons plante in die vol son staan.  Dit wys jou nogal die belangrikheid van die regte tipe kunsmis vir spesifieke doeleindes en ook die toedienings metode.

Wanneer jy sien jou plante toon tekens van stress, moet jy altyd ‘n kunsmis gebruik wat hoog is in Kalium. Vir hierdie doeleindes gebruik ons ‘n 3:1:5. Ons praat nou redelik baie van Kalium wat die laaste syfer in die kunsmis formule is. Onthou, die eerste syfer is die Stikstof inhoud vir bladgroen, die tweede is die Fosfaat inhoud vir die wortel vorming en die laaste is die Kalium wat goeie beskerming is teen algehele spanning – hetsy die oorsaak hitte, droogte of wind is. Die syfers in hakkies is gewoonlik die persentasie kunsmis in die formule en as daar SR agterna staan is dit stadig vrystellend (Slow Release). Onthou om jou plante genoegsame water te gee wanneer kunsmis toegedien word en wanneer dit toelaatbaar is.

Pot dreinering

Kom ons kyk na die dreinering van potte. Waanneer jou potplante nie goeie dreinering het nie, sal die plante se wortels in die potte wegvrot. Mens sien gereeld dat potplante in baie diep dripbakke of pierings staan, wat vol water is. Sommige huis eienaars is onder die indruk dat die dripbakke eintlik vol water moet wees om die plante van onder af nat te maak.

Die probleem is dat die grond wat onder in die onderste drie sentimeters van die pot is permanent nat bly, en dan begin suur word. Dit is nadelig vir die plant, so jy moet altyd die water onder in die piering uitgooi of opdroog as dit te lank staan. Potte moet altyd dreinerings gate hê waaroor jy ‘n paar klippies kan pak en dan ‘n dreinerings lap (pot pal of biddum) oor die klippe lê om te keer dat die grond deur was en die gate verstop. Meer potplante vrek van te veel water as van te min. Lug en lig is ook belangrik by die plasing van jou potplant in jou huis. Maak altyd seker of jou potplant lae of hoë lig wil he om te floreer.

Goeie potgrond en ‘n stadig vrystellende voedingsstof is ook van kardinale belang vir gesonde plante. Gaan ook jou plante gereeld na om seker te maak dat daar geen insekte op jou plante of in die grond is nie. Vita Bone Beenmeel van Talborne bevat natuurlike Fosfate wat belangrik is vir wortel ontwikkeling en dit moet in die potgrond ingemeng word voordat jy jou potplante plant.

Moet nie van jou gryswater vergeet wat baie maklik van tyd tot tyd op potplante gebruik kan word nie.

As jy bogenoemde gedoen het, behoort jy pragtige en gesonde potplante in jou huis te hê.

Lekker Tuinmaak!

JJ

JJ van Rensburg – Elke seisoen is jou beste seisoen

ISBN: 978-1-920217-44-0

Beskikbaar by:   https://gardeningonline.net/collections/gifts/products/elke-seisoen-is-jou-beste-seisoen en www.briza.co.za

TOP