Kombuistuin (kruie, groente en vrugte)
Bessievrugte moet elke twee weke kunsmis kry (iets soos Multibooster van Makhro Home and Garden); ‘n Eetlepel vol vir ‘n lopende meter op so drie plante sal voldoende wees. Bedek met ‘n deklaag suur kompos en gee goed water. Moenie toelaat dat die bessieplante uitdroog nie. Bemes aarbeie en maak seker dat geen kunsmis op die blare of vrugte val nie. Tropiese vrugtebome soos mango’s, lietsjies en avokadopere moet genoeg water kry. Maak seker die grond droog nie uit nie sodat die jong vruggies goed kan ontwikkel. Steenvrugte kan nou uitgedun word veral waar daar te veel vrugte per tak is, om groter vrugte met beter smaak te verseker. ‘n Algemene riglyn is een vrug per 10cm lengte tak. Appel- en peerbome moet nou gespuit word teen kodlingmot.
Plant of saai die volgende groente:
- Artisjok – plant jong plantjies
- Aspersies – saai saad in beddings of plant jong plantjies
- Beet – saai direk in beddings
- Blaarslaai – plant jong plantjies
- Boontjies – saai direk in rye
- Broccoli – saai direk of in saadkissies
- Geelwortels – saai direk in beddings
- Pampoene en Skorsies – plant pitte direk in beddings
- Radyse – saai in bedding of probeer om hulle in ‘n pot te kweek
- Rankboontjies – saai direk in bedding, spasieer die sade korrek
- Rissie – saai direk of in saadkissies
- Snybeet – saai in saadkissie of direk in die beddings
- Soetrissie – saai in saadkissies
- Tamaties – saai in saadkissies
Die volgende meerjarige kruie kan nou geplant word:
Balm (Melissa), grasuie (Allium), marjolein (Origanum), al die verskillende soorte ment (Mentha), roosmaryn en tiemie. Eenjarige kruie soos basiliekruid, koljander en vinkel kan nou gesaai word.
Potplante, Hangmandjies en Binneshuise Plante:
Plant somerblommende eenjariges nou in potte en maak gereeld nat. Struike en meerjariges wat in potte geplant is, kan nou netjies gemaak word deur ou en dooie groei te verwyder en te snoei om die vorm van die plant te verbeter. Gee genoeg water. Plaas ‘n laag vars potgrond bo-op die gevestigde wortelbol. Maak seker dat hangmandjies nie uitdroog nie. Mot-orgideë se blomme begin nou oopgaan. Maak seker die plante kry gereeld water en dat hulle op ‘n plek staan met voldoende lig, maar geen direkte sonlig nie. Warm, droë lug kan veroorsaak dat van die knoppe gespeen word.
Binneshuise potplante kan buite geplaas word en liggies met die tuinslang afgespuit word of in sagte reën geplaas word om van die wintermaande se stof ontslae te raak. Die hele plant sal sommer beter vertoon en beter groei.
Grasperke:
Bemesting is nou baie belangrik. Gee elke twee maande 2:3:2 van Protek teen ongeveer ‘n handvol per m². Strooi die kunsmis egalig oor die grasoppervlak en maak goed nat om kunsmisbrand te voorkom. Die grasperk moet ook gereeld water kry in droë warm weer om die beste groei aan te moedig.
Wenk:
Onkruid groei baie vining in die grasperk gedurende die Lente. Gebruik ‘n breëblaaronkruiddoder soos Versus om van hierdie ongewenste plante ontslae te raak. Uintjies word deur sekere van hierdie tipe onkruiddoders beïnvloed, maar kan ook onderdruk word deur landboukalk op die grasperk te strooi.
Uintjies kan met produkte soos Lawntyl van Makhro Home and Garden en Basagran van Efekto gespuit en beheer word. Indien jy ‘n bolaag op die grasperk gestrooi het, maak seker dat die gras ordentlik deurgegroei het voor jy die gras sny anders gaan die grassnyer net die bolaag verwyder en dan was al jou moeite verniet.
JJ van Rensburg – Elke seisoen is jou beste seisoen
ISBN: 978-1-920217-44-0
Beskikbaar by: https://gardeningonline.net/collections/gifts/products/elke-seisoen-is-jou-beste-seisoen en www.briza.co.za