Nou met die koeler aande wonder ek gereeld hoe die plante moet voel wat buite staan. Ek en jy is vinnig om in ons warm huise skuiling te vind. Buite-plante moet wind, ryp, donderweer en nog meer weerstaan. Dis juis om dié rede wat jy jou plante moet toemaak as jy in ‘n koue area bly. Twee produkte waarmee jy jou plante kan toemaak – Rypdoek (Frost Cover) of Hessian. Ek verkies in meeste gevalle die rypdoek omdat dit nie te swaar is nie, nie te donker is nie en nog steeds lig deur laat dat die plante nie sal vrek van te min lig nie. Rypdoek was altyd net in wit beskikbaar maar deesdae kan ‘n mens dit selfs in ‘n sagte groen kry wat bietjie minder opsigtelik is. Wat belangrik is, is om die plant van bo tot onder behoorlik te bedek en indien dit moontlik is om eerder stutpale in te sit wat die doek nie teen die plante laat raak nie. Hessian werk weer goed as jy die stamme van die plante wil toedraai en so wil beskerm.
Dis ook heel normaal vir die plante om nou in rus in te gaan. Sekere plante gaan nou blare verloor, ander gaan weer ondergronds vermeerder en die res rus nou deur stadiger te groei. As jy wel bolplante het wat se blare nou heeltemal verdwyn het, is dit belangrik om die area te merk sodat dit nie uitgespit word nie. Ek gooi altyd ‘n “Bark Unlimited” boombas deklaag op die grond bo-oor die somerbolle en dit beskerm die bolle teen die winter koue en merk die area waar die bolle geplant is.
So gepraat van bolle, het jy al jou winter bolle geplant. Baie belangrik om die aanwysings agter op die pakkies te lees en te volg, veral die regte diepte. Sou mens die bolle te oppervlakkig plant staan jy ‘n groot kans dat die bolle sal omval, en te diep sal hulle weer nie opkom nie! Bolle wil ook nie in water staan nie. As jou bolle permanent nat is sal hulle baie maklik weg vrot. Goed gedreineerde ryk grond is belangrik en as mens plant moet jy ook gereeld voer. Hadeco se blombol voedsel is spesifiek geformuleer vir bolle en as jy jou bolle voer is dit nie net om jou plante nou te help nie, maar ook te kondisioneer om volgende seisoen net so mooi te blom.
Moedersdag val op 8 Mei en dis altyd ‘n goeie idee om die skoner geslag in jou familie te bederf. Wat is beter as ‘n pragtige blomplant wat sy in haar huis of tuin kan plant. Die gewildste is natuurlik Orgideë, Gerberas of gepotte Rose. Hoekom nie die jaar iets anders probeer soos bv ‘n hangmandjie vol Petunias of selfs ‘n bak vol kruie. Dit vat partykeer iets kleins net om dankie te sê.
Wenk
Balsemkopiva (Bulbine frutescens) is nie net ‘n aantreklike tuinplant nie, maar ook ‘n uitstekende kuur vir velaandoenings soos brandwonde en skurwe vel. Hierdie inheemse vetplant, ook bulbinella genoem, moet nie met die vuurpylagtige katstert (Bulbinella floribunda) verwar word nie.
JJ van Rensburg – Elke seisoen is jou beste seisoen
ISBN: 978-1-920217-44-0
Beskikbaar by: https://gardeningonline.net/collections/gifts/products/elke-seisoen-is-jou-beste-seisoen en www.briza.co.za
Lekker tuinmaak!
JJ