JJ & RSG – Jou tuin in Maart

JJ & RSG – Jou tuin in Maart

Beplan jou winterstuin

Maart is die ideale tyd vir ons tuin liefhebbers wat vroeg hulle beddings wil begin regkry vir die plant van die winter saailinge. Ek self het ‘n voorkeur vir winter saailinge want die kleur is soveel meer intens en daar is so baie om mee te speel.  Nou kan jy regmaak vir die winter maande, maar ook vir die lente. Waar jou eenjarige somer plante nou stadig aan begin afgaan, kan jy dit verwyder en jou beddings begin voorberei vir herfs aanplantings wat jou winter en lente tuin met kleur sal optower.

Beplan jou tuin en maak ‘n lys van al jou gunstelling saailinge en bolle wat jy graag sou wou saai of aanplant. Staatmaker saailinge vir die koeler maande is byvoorbeeld: Namakwalandse Madeliefies, Heuningblommetjies, Gousblomme, Vinger Hoedjies, Gazanias, Kappertjies, Viooltjies, Gesiggies, Papawers, Sleutelblomme en Pronkertjies om ‘n paar te noem.

Pronkertjies is altyd ‘n wenner in elke tuin. Plant jou knie hoog, “Bijoux” en rank pronkertjie saad nou. Hulle hou van ‘n diep (Ten minste 500mm diep) omgewerkte kompos ryke grond en verkies ‘n vol son posisie in die tuin.

Spit voldoende goeie kwaliteit kompos van Bark Unlimited, vry van onkruid sade, in nagenoeg 30cm van jou grond in. ‘n Algemene kunsmis of saailing kunsmis soos Talborne se ‘Seedling Food’ kan ook ingewerk word. ‘n Goeie riglyn is so nagenoeg ‘n handvol kunsmis per vierkante meter. Addisionele beenmeel is altyd ‘n goeie idee vir beter wortel ontwikkeling. 

Dink net hoe ongelooflik mooi ‘n kombinasie van ‘n bedding vol sagte pers sleutel blomme (Primulas) en heldergeel Affodille daarmee saam kan lyk.    

Maak altyd seker wat die behoefte van jou saailinge is, naamlik: verkies hulle son of skadu, baie of min water! Groepeer altyd plante wat van die selfde groei omstandighede hou saam.

Bolle wat in die winter en lente sal blom sluit in onder andere vir halfskaduwee: Anemone, Freesia, Hiasinte en Tulpe. Halfskaduwee en vol son: Narsings, Affodile, Muscari en Lachenalia. Vol son: Ixia, Ranunculus en Spiraxis.

Daar is ‘n paar basiese reëls wat ‘n mens in gedagte moet hou vir sukses met saailinge.

  1. Kom ons begin eers by die grond voorbereiding. As jy eers gesien het wat die verskil is met goeie grondvoorbereiding sal jy nooit weer saailinge plant sonder die regte voorbereiding nie. Saailinge hou van ‘n los, fyn, goed gedreineerde en vrugbare medium. Op die oog af is die reël, hoe donkerder die grond, hoe ryker is dit. As jou grond meer geel of ligbruin van kleur is, kan jy maar weet jou grond gaan baie kompos of kraalmis nodig hê. Saam met die kompos is dit ook baie belangrik om beenmeel of superfosfaat en dan ook ‘n goeie saailing voedsel in te werk. Jy kan die bedding ongeveer 20 – 30cm diep omwerk, en dan belug (Suurstof) jy sommer die grond ook. Sou jy beplan om êrens Pronkertjies te plant moet jy ten minste ‘n halwe meter diep bewerk en ook jou kompos verdubbel. Maak seker dat jou Pronkertjies voldoende son kry, veral oggend son.  
  2. Lig is die volgende belangrike aspek en veral in die winter is dit nou eers belangrik. Soos die aarde draai, sit die son al hoe laer en word die skaduwees al hoe langer. Daglig word ook baie minder so ‘n mens moet seker maak wat word waar geplant. Poppies (Papawers), Gesiggies, Pronkertjies en Petunias (Oupa se Hoed) hou van baie son waar Primulas (Sleutelblomme), Cinerarias en Primroses weer van halfdag son tot skaduwee hou.
  3. Nou moet ons besluit hoeveel water. Sekere plante hou van baie water en ander wil weer droog wees. Dis baie belangrik om jou plante in die oggend nat te maak gedurende die winter. Papawers, Sleutelblomme en Gesiggies hou van baie water en Petunias weer van min en dis hoekom ons Petunias op die hoëveld in die winter plant en in die Kaap in die somer.
  4. Om seker te maak jou plante groei sterk en blom oorvloedig, voer hulle weekliks met oplosbare kunsmisse soos bv. Plaaskem Multifeed, Wonder se Seagro, Protek se Guanoflow of Wonder Nitrosol.

Grasperke:

Jou grasperk dien as die skilderdoek waarop jy jou tuin beplan. Een van jou tuin se grootste bates is ‘n mooi grasperk, en dit verskaf groot genot aan oud en jonk. Vir die ouer garde is dit mooi om na te kyk en vir die jonger garde om met hul kinders daarop speeletjies te speel.

Laat somer is daar ‘n paar reëls wat jy in gedagte moet hou as dit kom by grasperke. Moet nie nou jou grasperk te kort sny nie, sal dit veroorsaak dat jy die onderste stamme en wortels blootstel aan die son en sal jy sodoende jou grasperk se wortels vinnig laat uitdroog.

Maak  jou grasperk wanneer dit moontlik is nat, deur ‘n sproeier op jou grasperk vir ongeveer 15 minute op ‘n slag op ‘n spesifieke area te plaas. Indien dit moontlik is verkies ek om my grasperk in die laat middag of vroegoggend nat te gooi. Dit is ook nou tyd om jou grasperk vir die laaste keer hierdie seisoen te voer, die korrekte kunsmis om nou te strooi is Wonder 3:2:1 of organiese Gro Green van Protek.

Grasperk ruspes kan ‘n problem wees gedurende drie maande van die jaar, Januarie tot Maart. Die wurms vreet die gras net onder die grondoppervlak af, sodoende kry jy los stukke gras oral en jou grasperk vrek ook plek plek terug. As jy nou jou grasperk teen die wurms behandel sal dit die wurms dood maak voor hulle weer in papies verander, so sal jy die siklus kan breek. Gebruik iets soos Kombat se Malathion of Protek se Aviguard daarvoor. Wees versigtig met kinders en troeteldiere op jou grasperke na enige gif toediening. Die reël is om troeteldiere en kinders weg te hou tot die spuitstof behoorlik droog is.

Wenk:

Baie onkruid is nou besig om saad te maak. Sny die boonste gedeeltes met ‘n snoeiskêr af en vernietig dit sodat die saad nie kan ryp word en versprei nie.