Die winter is amptelik hier!
Al het die temperatuur in meeste van die land gedaal, is daar nog steeds baie wat in die tuin gedoen kan word. Dit is nou die tyd om ‘n vrag of twee kompos vir jou tuin te kry en oral in die blom beddings in te werk. Verprei ‘n 6 tot 10cm dik goed afgebreekte kompos oor jou tuin en tesame met ‘n organiese 2:3:2 bemesting werk dit goed in. Gebruik iets soos Talborne Vita Grow. Die Vita Grow bemesting sal jou plante se wortel stelsels voed. Moet dit nie te diep inwerk en jou plante se wortels daardeur beskadig nie. Tussen bome en struike is ‘n diepte van ongeveer 6cm oor as genoeg en by meeste grondbedekkers kan ‘n mens dit net liggies bo oor strooi en met water inwas.
Beplan jou snoei program vir laat winter en hier is ‘n paar redes hoekom jy behoort te snoei:–
- Om jou plante skoon te maak: Baie keer is jou plante net te dig en die takke is in mekaar gegroei met baie dooie hout tussen in. Raak ontslae van al die dooie hout en kraaines takke.
- Om jou plante te vorm: Bome en struike kan ook net te groot word en in ‘n verkeerde rigting groei. Beplan nou om hulle kleiner te maak en takke wat pla af te sny. Hierdeur verminder jy ook die plant se las en gee jy die wortels kans om sterker te word.
Om nuwe groei, blomme en vrugte te bevorder: Rose, vrugtebome en Hibiskusse is drie tipes wat baie sterk teruggroei nadat hulle gesnoei was en ook net blom op nuwe groei. Sodoende kry jy meer takke, meer blomme en natuurlik meer vrugte.
Die grootste fout wat gemaak word gedurende die winter is die toedien van te veel water en ook op die verkeerde tyd van die dag. Plante wil nie in die winter oormatig uitdroog nie, maak minder op ‘n slag, maar meer gereeld nat. Moet ook nie na 12 in die middag natmaak nie. Stel jou besproeiing vir in die oggend tussen 08h00 en 12h00.
‘n Ekstra baie belangrike beskermings middel teen ryp is deklae. Plante se krag sit oor die algemeen in hulle wortels en as ‘n mens die wortels kan warm hou gedurende die winter sal jou winter koue skade al klaar minder wees. Al jou koue gevoelige plante moet noual reeds toegemaak wees. Dis belangrik om jou plante om die kante toe te maak, en waar die ryp erg is, ook bo-op. Die gewone vlees rypdoek moet nooit aan die plant self raak nie, anders is dit nie so effektief nie. Dit hoef ook nooit gedurende die koue tydperk afgehaal te word nie, want die plant sal daardeur kan asemhaal en laat ook genoeg lig deur.
Bolle wat baie goed in hidroponika groei is Narsings, Affodille, Amarylis, Hiasinthe en ook Sprekelia. As jy hierdie jaar bolle by wyse van hidroponika gekweek het moet jy nou seker maak dat die houers nie te warm word in die son nie. Die bolle moet ook gereeld water en oplosbare voeding (3:1:6) kry – dit mag glad nie heeltemal uitdroog nie. Onthou om al jou bolle aan te hou voer totdat die blare heeltemal weggevrek het sodat die bolle genoeg energie het om weer en weer uit te groei.
Soos bo genoem, dis nou amper tyd om die hele tuin terug te sny. Min mense verstaan die belangrikheid van ‘n skoon snit. As jy wegval en sny, en dit word nie met ‘n skerp snoeiskêr of takskêr gedoen nie, kneus of breek jy die plant en ongelukkig doen dit meer skade as goed.
Dink net, die lente is skaars 2 maande weg!
Wenk:
Indien rotte en muise ‘n probleem in die tuin is, moet daar verkieslik rotgif gebruik word wat uil-vriendelik is. Praat met kundiges wat die gifstowwe verkoop en kry die produkte wat nie die knaagdiere se natuurlike predatore ook vergiftig nie. Dink ook daaraan om ‘n uilboks in jou tuin te laat installeer. Dit is verbasend hoe vinnig die rot- of muisprobleem sal verbeter.