Nuwejaars voornemens ….. wees ‘Waterwys’
Januarie is die begin van ‘n nuwe jaar met vars idees en ‘n aantal nuwejaars voornemens.
Tuiniers sal egter goed moet beplan vir droogte toestande. Dit sal jammer wees as jy jou hele tuin tot niet moet laat gaan. Wees waterwys en gee water wanneer dit toelaatbaar is, en plant plante wat nie baie water benodig nie.
Ander metodes om water te bespaar is natuurlike deklae. Iets wat nie warm word nie is ideaal en hier kyk ons meer spesifiek na boombas, skaafsels en gekapte hout. Iets wat baie mense vra is – moet hulle die deklae inwerk of kan hulle dit net bo op die grond los. Dit moet verkieslik nie ingewerk word nie. Die produk wat afbreek moet deur die erdwurms in die grond ingewerk word.
Water kristalle soos byvoorbeeld ‘Stockosorb’ of ‘EXLGel’ kan ook in die grond ingewerk word wat water in die grond sal terughou en jou plante ‘n baie beter kans gee op oorlewing.
Die oordeelkundige gebruik van water is baie belangrik. Dit help nie om plante te kies wat baie water gaan vereis nie, veral as jy vir lang periodes nie water kan toedien nie. Dit is beter om vir die meer geharde waterwys plante te gaan wat minder water nodig het om te floreer.
Struike wat minder water benodig sluit die volgende in: Plumbago (Kaapse Kanferfoelie), Leonotis (Wilde Dagga) en ook Euryops pectinatus (Wolhaarpuisbos). Die plant van grondbedekkers is ook ‘n goeie manier om water verdamping te voorkom, en drie baie goeie voorbeelde van inheemse grondbedekkers wat die warm son kan hanteer is laagroeiende Gazania, Vygie varieteite en Dymondia wat ook as ‘n Silwer Tapyt bekend staan.
Alhoewel die dae baie lank en warm is, is daar ook sommige areas wat wel reën en hael gekry het wat die tuin afkoel en die plante weer lewenskrag gee. Die hael sal ook die stikstof in die grond verhoog en die plante stimuleer om beter te groei.
Somer snoei en die behandeling van jou plante
Die somer groei kan ook beddings onnet laat voorkom. ‘n Ligte snoei sal die plante netjieser laat vertoon en ook ‘n sterker meer kompakte plant verseker. Dit sal ook help dat die plante minder water benodig. Wees net versigtig met die snoei sessie om nie plante wat vroeg in die lente blom se blom knoppe weg te sny nie. Dit sal nou bekende plante soos kaapse mei, blom kersies en blom kwepers insluit.
Roos snoei is ook nie net vir die winter maande nie. ‘n Ligte somersnoei is belangrik waar jy min of meer ‘n derde van die plant terugsny en al die dooie roosknoppe en meeste van die siek blare verwyder. Die blare wat deur die hael beskadig is kan ook afgebreek en verwyder word. Onthou ‘n goeie deklaag onder jou rose is baie belangrik. Moet ook nie diep om jou rosebome spit nie, dit beskadig die haarwortels van die rose en dit is nadelig vir die rose.
Na die snoei proses kan jy elke plant ongeveer ‘n halwe koppie Wonder 3:1:5 of Protek se 8:1:5 toedien om nuwe groei en blomme te stimuleer. Ludwig’s Vigorosa kunsmis is ook ‘n goeie keuse. Spuit jou rose met Efekto se Rosecare, Protek se Rose Protector of Ludwig’s Insectspray om jou rose te beskerm teen plantluise en skimmel.
Met al die warm weer moet ‘n mens op die uitkyk wees vir swart vlek en poeieragtige meeldou. Rooispinnekop hou ook van die gunstige toestande en floreer op vinnig groeiende plante soos Fuchsias, Hibiskus, Hortensias en Rose. Om rooi spinnekop se tekens op plante te herken, wees op die uitkyk vir plante met geel vlekke op hul blare en ‘n stowwerig voorkoms. Kyk veral agter op die blare om voorkomend op te tree teen skimmel en rooispinnekop. Daar is twee verskillende produkte wat gebruik kan word – Efekto se Redspiderside of Kombat se Milbeknock.
Voeding is die volgende aspek wat jy na moet kyk. Die beste om te gebruik is ‘n stadig vrystellende kunsmis soos byvoorbeeld ‘n Wonder 3:2:1(SR) ‘Slow Release’. Persoonlik verkies ek iets meer organies – soos byvoorbeeld Just Organic Crumble of Talborne se Vita Grow. Vir potte en blombakke is Protek Guanosol pille fantasties. Wat baie mense vergeet is dat meeste organiese kunsmisse stadig vrystellend is en ook nie die plante so maklik brand nie. As jy een of twee keer per jaar kunsmis in jou tuin toedien, gaan jy al klaar ‘n reuse verskil in jou plant kwaliteit sien.
Die volgende raad is om na jou Agapanthusse en na jou bol plante om te sien, maar meer spesifiek die wurms wat jou Agapanthusse en Clivia’s opvreet. Die wurm lyk dieselfde as die gewone Amarylis wurm wat ‘n mens nog al die jare kry, maar i.p.v. dat dit geel en swart strepe het, is dit wit en swart gestreep. Die wurms beweeg ook in die kroon van die plant af tot onder in die bol en vreet die plant van binne af weg. Makhro se Cyper en Protek se Knox Worm is van die beste produkte om te gebruik teen die probleem.
Wenk:
Dit is nog vakansie en kinders is gek oor vetplante en karnivoriese (insekvretende) plante. Laat hulle self die plantjies in ‘n glasbak of terrarium plant; dit sal hulle vir ure besig hou en so leer hulle ook sommer meer van plante en die natuur.
JJ van Rensburg – Elke seisoen is jou beste seisoen
ISBN: 978-1-920217-44-0
Beskikbaar by: https://gardeningonline.net/collections/gifts/products/elke-seisoen-is-jou-beste-seisoen en www.briza.co.za
Lekker Tuinmaak!
JJ