JJ, ons Tuinboukundige
In die Groenvingers-insetsel van die immergewilde program Brekfis met Derrich Saterdagoggende op RSG gesels JJ al vir sewe jaar lank tuinsake met Derrich Gardner en hy beantwoord ook luisteraars van oor die hele land se kwelvrae oor tuinprobleme.
Die boek, ‘Elke seisoen, jou beste Seisoen’ het uit hierdie radioprogram gespruit. Dit is ‘n volkleur praktiese gids oor hoe om jou tuin heeljaar op sy beste te laat vertoon. Al die noodsaaklike tuintake, vaardighede en tegnieke word saamgevat in een boek.
Lees gerus ook op hierdie blad nog raad van ons eie JJ oor enige tuinmaakvrae wat jy kan hê.
Hiermee ook 'n mooi briefie van 'n Garden World-besoeker wat 'n baie besonderse ervaring by Garden World gehad het te danke aan JJ:
Liewe JJ en elkeen betrokke by Meyerton Senior Sosiale Klub,
Soms gebeur daar net iets wat ‘n mens ‘n oomblik laat stil staan en dink…… wat jou ‘n slag dwing om bietjie deur jou eie spyskaart te kyk en so weer al jou eie voorregte raak te sien!
Ons klub was verlede Donderdag met die bus na Garden World. Dankie JJ en almal wat daar vir ons reggestaan het. Ons het heerlik gekuier.
Maar die groot oomblik was nie die pastei met heerlike sous nie of al die pragtige produkte wat daar te koop aangebied word nie… die groot oomblik was toe ons blinde lid, Naomi de Wet, JJ se stem herken het!
JJ het beslis nie geweet hy het hierdie groot vriendin in Meyerton nie – wat weens haar blindheid elke Saterdag na hom op RSG luister. So ken sy plante en weet van tuinmaak, want JJ het so gesê!
Naomi wou iets van ‘n orgidie weet en net daar het hy die plant gaan haal en vir Naomi toegelaat om te vat, te voel, te vra… Wat ‘n ongelooflike ervaring om deel daarvan te kon wees! (En Naomi het die oomblik benut!) Van die pragtige blom, tot onder by die wortels kon sy presies met haar vingers uitvind wat sy graag wou weet.
Dankie… Sonder liefde vir ons medemens sou hierdie glad nie moontlik gewees het nie.
Dankie Jesus vir liefde, vir saamwees, vir genade…
Dankie Sarie, dat jy jou talente uitleef… dat jou liefde vir “ou mense” soveel positiewe dinge laat gebeur.
Dankie aan die NG Kerk Meyerton vir julle hulp en bystand.
Dankie JJ… jy het van die besoek ‘n belewenis gemaak.
Dankie Elena Hees, Naomi se vriendin wat so mooi na haar omsien.
Mag Meyerton Senior Sosiale Klub nog vir jare bestaan.
Ek kan ‘n baie langer brief skryf. Hierdie was maar net een hoogtepunt die afgelope termyn.
Liefdegroete
Marina