Water - Ons Kosbaarste Bron

In die laat 90’s was daar gesê dat die volgende wêreldoorlog gaan nie oor grond, mag, geld of skatte wees nie, maar eerder oor water. Ongelukkig neem ons aan dat as ons ‘n kraan oopdraai daar vanselfsprekend water sal uitstroom en dit is nie altyd die geval nie. Die SA populasie groei ook teen ‘n tempo van 1.34 % wat beteken dis ongeveer 750 000 mense per jaar.  Skrikwekkend om te dink dat as elke persoon slegs 10 lt water per dag verbruik, is dit 7.5 miljoen liter water per dag.

Suid-Afrika was nog altyd ‘n waterskaars land en as ons nie vinnig die erns van die saak besef nie, gaan ons vasbrand. Ons reënval het oor die laaste paar jaar met aardverwarming ook met ongeveer 16 % verminder. Ja, daar is verskeie redes hoe ons almal water kan bespaar, maar tuine was nog altyd in die slagveld. Ongelukkig gaan dit nie oornag gebeur om mense se gewoontes te verander nie, maar hier is ‘n paar maklike wenke oor wat jy in jou eie tuin kan doen.

  1. Plant plante wat minder water vereis. Daar is verskeie plante wat met minder water oor die weg kan kom en nog steeds ‘n groot impak kan maak – vetplante, plante met grys blare, plante inheems tot jou streek of area is net ‘n voorbeeld.
  2. Plaas deklae om jou plante. ‘n Deklaag kan bestaan uit blare, boombas, strooi, klippies, neutedoppe, grondboontjiedoppe, ens.  Maak seker jou deklaag is ongeveer 30 mm dik en dit moenie in die grond ingewerk word nie. Organiese produkte soos bv. boombas en blare sal stelselmatig soos dit verrot deur erdwurms wel in die grond ingeneem word.
  3. Soneer jou plante – wat eintlik baie maklik, logies en eenvoudig is. Met dit, bedoel ons eintlik dat jy die verskillende plante met dieselfde waterbehoeftes saam groepeer.
  4. Maak gebruik van Gryswater. Het jy al ooit probeer bereken hoeveel water ons eenvoudig in die drein afgooi. Water vanuit jou wasmasjien, bad en stort is veilig om in jou tuin te gebruik. Skottelgoedwater waar mens sterker sepe gebruik, is ongelukkig nie ideaal nie en kan nie gebruik word nie.
  5. Vang jou reënwater op. Net 1 mm reën op ‘n 100 m² dak sal al klaar vir jou 1 m3 water gee.
  6. Sit ‘n plastiese seil op jou swembad. In groot gedeeltes van die land en die wêreld is dit wet dat jy nie ‘n swembad mag hê sonder ‘n bedekking nie. Met ‘n verdampingskoers teen ‘n gemiddeld van 1.6 m per jaar is dit te verstane.

Heel interessant – die water wat ons vandag het, is dieselfde hoeveelheid water wat ons grootouers gehad het en sal dieselfde hoeveelheid bly wat ons kleinkinders eendag sal hê. Die bestuur van hierdie kosbare bron gaan die mensdom red.

Lekker tuinmaak!

JJ

TOP