JJ & RSG – Jou tuin in September

JJ & RSG – Jou tuin in September

Eenjariges:

Dit is nog nie te laat om gesiggies en feetjie-primulas te plant nie. Gesiggies sal beter vaar indien hulle in ‘n posisie met gefiltreerde sonlig geplant word sodat hulle langer, tot diep in die warmer maande, kan blom. Plant feetjie-primulas in ‘n skaduryke kol waar die grond lekker klam bly.

Berei die beddings voor vir die saai van somerblommende eenjariges. Werk kompos en ‘n stadigvrystellende kunsmis in die grond in. ‘n Veilig opsie is ‘n mengsel van organiese beenmeel en 2:3:2 (Vita Grow van Talborne Organics) wat nie die plantjies kan brand nie.

edf
Dianthus

Werk die grond goed om met ‘n graaf en spitvurk – nie net om die kunsmis en kompos goed in te werk nie, maar ook om die grond te deurlug. Wanneer die ergste koue verby is, kan die volgende somerblommende eenjariges gesaai word: boommalva (Lavatera), gipskruid (Gypsophilla), grasangelier (Dianthus), heuningblommetjie (Alyssum), impatiens, jakobregop (Zinnia), Kaapse vergeet-my-nietjie (Anchusa), kappertjie (Tropaeolum), keëlbblom (Rudbeckia), koringblom (Centaurea), kosmos (Bidens formosa), lobelia, leeubekkeie, papawer, petunia, rooi salie (Salvia splendens), sonneblom (Helianthus), stokroos (Alcea rosea) en die tabakblom (Nicotiana).

Baie van die winterblommende eenjarige plante is nog in volle kleur. Hou hulle op hulle beste deur die ou blomme gereeld te verwyder en van die stingels terug te sny indien nodig. ‘n Wateroplosbare kunsmis met ‘n hoë kaliuminhoud (Bv ‘n oplosbare 3:1:6 van Starke Ayres gewoonlik een teelepel verdun op 5lt water) sal die plante aanspoor om aan te hou nuwe blomknoppe maak. Maak seker dat die plante tydens die warmer weer nie uitdroog nie.

316 Plant Food 500g Starke Ayres

Hoe verdeel ek meerjarige plante?

Die meeste meerjarige plante moet elke 3 tot 4 jaar uitgehaal, verdeel en oorgeplant world om seker te maak die stokkerige gedeeltes word verwyder en die nuwe stingels en uitloopsels kry ‘n goedvoorbereide bedding waar hulle weer welig kan groei. Voorbeelde van meerjariges wat so verdeel kan word sluit in baardirrise, agapante en ornamentele grasse.

  1. Maak die grond ‘n dag voor die tyd goed nat. Haal die plante met ‘n tuinvurk uit en probeer om die wortels nie te veel te beskadig nie. Nou kan die grond van die wortels afgeskud of met ‘n tuinslang afgespuit word. Verdeel die plante in kleiner dele. Dit is gewoonlik heel maklik om te sien waar die risome verdeel kan word.
  2. Plaas die nuwe, groeikragtige dele eenkant om weer geplant te word. Die stokkerige of houtagtige gedeeltes kan weggegooi word, of indien jy die plante wil behou kan jy hulle weer plant, maar hou in gedagte dat hierdie plante nie so goed in die tuin gaan presteer nie.
  3. Berei die bedding voor deur genoeg kompos en kunsmis (een koppie algemene 2:3:2 en ‘n ½ koppie superfosfaat per m² – beide besikibaar in die Protek reeks) goed te meng en in die grond te werk. Plant nou die risome op die regte diepte en maak goed nat.
Divide a plant
hand on fresh grass

Grasperke:

‘n Ordentlike lentebehandeling sal verseker dat die grasperk vir die volgende jaar op sy beste sal vertoon. Stel die grassnyer op die laagste stelling en sny die ranke tot net bokant die wortels af. Gebruik verkieslik ‘n holtand-roller om die grasperk te deurlug, maar as jy nie toegang tot so iets het nie, kan jy ook ‘n tuinvurk oor die hele grasperk gebruik om die grond te deurlug. 

‘n Toediening van kunsmis (gewone 3:2:1 SR van Wonder) sal die gras aan die gang kry. Nou kan ‘n dun bolaag van grond en kompos eweredig oor die gras gestrooi word. Dit is die perfekte manier om plekke waar die grasperk nie egalig is nie gelyk te maak. Gebruik die agterkant van ‘n hark om sulke areas met bogrond en kompos op te vul en gelyk met die res van die grasperk se oppervlak te kry. Maak die gras goed nat en gee kans tot dit warmer is vir jou pragtige, groen, gesonde grasperk om te ‘verskyn’. LM (ook bekend as Berea), kweek en buffelsgras moet liefs nie te laag gesny word nie – die lopers is meestal bogronds en as te veel afgesny word, sal die grasperk kaal kolle maak. LM hou glad nie daarvan om ‘n bolaag te kry nie, maar as dit moet, gebruik eerder kompos en vryf dit met jou vingers in.

Wonder 321 General Purpose Efekto

Wenk:

Die toediening van ‘n bolaag op die grasperk is iets wat elke 2 – 3 jaar gedoen kan word. Nie net help dit om die grondoppervlak van die gras egalig te kry nie, maar dit is ook ‘n nuwe groeimedium waardeur die gras kan groei!

JJ van Rensburg – Elke seisoen is jou beste seisoen

ISBN: 978-1-920217-44-0

Beskikbaar by:   https://gardeningonline.net/collections/gifts/products/elke-seisoen-is-jou-beste-seisoen en www.briza.co.za