JJ & RSG – Jou tuin in November

JJ & RSG – Jou tuin in November

Take vir vroegsomer:

Wat is die beste manier om saailinge te plant?

Koop jy gereeld pragtige saailinge van goeie kwaliteit en word dan teleurgestel as die plante nie in jou tuin floreer nie? Om te verseker dat hierdie plante sterk groei en in oorvloed blom, moet hulle reg uitgeplant word. Plant saailinge vroeg in die oggend uit wanneer dit koel is.

  1. Maak seker die bedding of pot waar die saailinge geplant gaan word, is goed voorberei. Spit die bedding om sodat die grond goed deurlug is en kluite opgebreek word. Jy kan terserlfde tyd ‘n bietjie organiese 3:1:5 van Starke Ayres en beenmeel van Talborne Organics in die grond inwerk. Saailingkunsmis soos Seedling Food van Talborne Organics is ook beskikbaar.
  2. Neem ‘n handgrafie en maak gaatjies om die saailinge in te plant. Moenie die saailinge te na aan mekaar plant sodat die volgroeide plante later moet kompeteer vir spasie nie. Hulle moet egter ook nie te vêr uit mekaar gespasieer word nie, want dan gaan ‘n mens nie die gewenste bedekking kry nie.
  3. Maak die saailinge in die saadkissies deeglik nat. Haal die saailinge versigtig uit die kissie sodat jy nie die wortels beskadig nie. As die kissie van plastiek gemaak is, kan die plantjies van onder uitgedruk word; breek ‘n polistireenkissie sodat die plantjie met die grond en al uitgehaal kan word.
  4. Wanneer die saailinge geplant word, moet daar seker gemaak word dat die grondoppervlak van die sailing op dieselfde vlak as die van die bedding waar die saailinge geplant word. As die saailinge te vlak geplant word, sal die wortels bo die grond uitsteek en uitdroog. As die plantjie te diep geplant word, kan die stingel vrot en die hele plantjie daarmee heen wees.
  5. Druk die grond rondom die stingels baie liggies vas en gee die plantjies weer water om te verseker hulle staan stewig in die bedding. Die jong saailinge kan nou toegelaat word om effens (nie oormatig nie!) uit te droog voor hulle weer water kry. Dit is ‘n goeie idee om sommer nou snywurmlokaas soos Cutworm Bait van Protek te strooi omdat jong saailinge eerste aangeval word.

Struike, klimplante en bome

Sodra dit meer gereeld reën moet ‘n mens rose dophou vir tekens van poeieragtige meeldou en swartvlek. Dit kan die hele seisoen se drag blomme belemmer. By die eerste tekens van enige van die twee swaminfeksies kan die plant met ‘n goeie sistemiese swamdoder soos Orius van Makhro Home and Garden behandel word. Na die eerste groot drag van blomme kan die rose nou liggies gesnoei word om teen Kersfees die volgende groot drag te verseker. Andersins kan ‘n mens net die ou blomme verwyder en 8:1:5 kunsmis van Protek toedien.

As jy nog nie kans gehad het om jou Fuchsias terug te knyp nie kan dit nou nog gedoen word. Die nuwe groeipunte kan uitgeknip word om digter groei aan te moedig. Plante wat oud, stokkerig en kaal vertoon, kan ‘n bietjie strawwer teruggesnoei word om jong nuwe lote aan te moedig.

Die nuwe lowerige groei van Hibiskusplante is ‘n goeie voorbeeld van die groeikrag wat plante gedurende hierdie tyd van die jaar ervaar. Indien die plante ‘n bietjie groot geraak het of dalk ‘n bietjie yl na jou sin vertoon, kan jy hulle redelik straf terugsnoei om nuwe groei aan te moedig. As die plant dig genoeg is en ook nie te groot is nie, kan die nuwe groeipunte net liggies teruggesnoei word om digter groei aan te moedig. Die plant sal dan later meer blomme dra omdat Hibiskusse net op nuwe groei blom.

Krismisrose se blomkleur kan nou bepaal word deur die voeding wat gegee word. Daar is spesiale krismisroos-voeding van Starke Ayres vir blou of pienk blomme. Onthou: die blomme sal pienk wees as die grond minder suur is en blou wees as daar baie suur grond is (grond met ‘n baie lae pH).

Trots van Indië (Lagerstroemia indica) maak gereed om te blom. Maak seker dat die wortels nie uitdroog nie. In nat, reënerige weer mag poeieragtige meeldou ‘n probleem wees en die blomkrag verswak. Indien nodig gebruik ‘n sistemiese swamdoder soos Tenazole van Protek. Alle struike kan nou ‘n goeie dosis gebalanseerde kunsmis soos Gwhano van Protek kry. Onthou om gereeld water te gee soos die plante dit benodig. ‘n Deklaag van kompos of blaarsnysels van Bark Unlimited sal help dat die grond rondom die struike en bome nie so vining uitdroog in warm, droë weer nie en sal boonop ook die wortels koel hou in die skroeiende somerhitte.

Wenk:

Die boonste lagie grond in die beddings is geneig om ‘n harde kors te vorm, veral na ‘n bui reën. Hierdie kors belemmer dan die dreinering en die gaswisseling in die grond. Die maklikste manier om dit te vermy is om grondbedekkers te plant wat die bolaag bedek en die waterdruppels se spoed breek sodat die grond nie so kompakteer nie. ‘n Organiese deklaag soos boombas of neute doppe van Bark Unlimited werk net so goed en sal mettertyd, soos wat dit afbreek, ook ekstra voedingstowwe aan jou plante verskaf. Spoelklippe kan help om die spoed van afloopwater te breek. Plaas ‘n klompie spoelklippe by die uitloop van elke geut om te keer dat die stroom water jou tuin nie verspoel nie.