JJ & RSG – Jou Tuin in Augustus

JJ & RSG – Jou Tuin in Augustus

Hoe moet ek my rose snoei?

Roossnoeityd was vir baie mense ‘n tyd van die jaar waarna daar opgesien was aangesien dit altyd ‘moeilik’ en harde werk was. Deesdae is daar baie makliker tegnieke om rose te snoei wat ook baie minder werk is en nie so lank neem nie. Dit is wel belangrik om die rose te snoei om ‘n goeie drag blomme te verseker. Rose blom net op nuwe hout en die snoei van rose is dus om die groei van nuwe lote aan te moedig wat mettertyd sal blom. Die snoeimetode gaan afhang van die ouderdom van die roosboom asook die tipe roos. Snoeityd is voor die sapvloei in die roosboom begin het en die rustende ogies begin uitloop, maar wanneer ‘n mens seker is die ergste van die winterkoue is verby.

Rose Pruning

Jong roosbome wat in die vorige jaar of twee geplant is, moet strawwer teruggesnoei word om sterk nuwe lote aan te moedig. Dieselfde geld vir roosbome wat oud is. Hier moet strawwe snoeimetodes ook van tyd tot tyd toegepas word om van ou hout ontslae te raak en sterk jong lote te bevorder.

Floribunda-rose is die maklikste en vinnigste om te snoei. Hier kan die hele roosboom net tot die helfde teruggesnoei word en dooie take verwyder word. Indien nodig, kan ‘n paar van die baie ou take uit die middle verwyder word, maar dit is nie nodig om dit op ‘n jaarlikste basis te doen nie.

Groot rose (teerooskruisings of ‘hybrid tea’-rose) moet ‘n bietjie noukeurig gesnoei word. Begin om eers die boonste derde of helfde van die plant te verwyder. Nou kan al die dooie take uitgesny word. Kyk na die basis van die plant en kies ‘n paar (3 tot 5) van die sterkste en gesondste stamme om die raamwerk van die plant te vorm. Hierdie stamme moet verkieslik uitmekaar wys sodat die roosboom in ‘n mooi vorm sal groei en genoeg lig kan inlaat. Snoei die stamme terug (tot so 40cm bokant die grond) sodat daar ‘n paar sterk ogies kan uitloop om nuwe lote te vorm. Maak seker jy snoei net bokant ‘n ogie sodat daar nie dele van die stam is wat terugsterf tot by die volgende ogie nie. Probeer om ook skuins te sny sodat water wat later op die snoeiplek te lande kom kan afloop.

 

Roos snoei

Rankrose kan bloot uitgedun en die ou hout verwyder word. Indien die rose oor ‘n struktuur of teen ‘n muur rank, moet dit so gesnoei word dat die vorm nie ingeboet word nie.

Hoogstamrose moet net soos teerooskruisings behandel word, maar moet nooit te erg teruggesnoei word nie aangesien dit dik, lang lote tot gevolg sal hê wat die struktuur van die plant nadelig sal beïnvloed. Na die rose gesnoei is, moet die woorde met seëlmiddel soos Steriseal van Efekto or Prune Seal van Makhro Home & Garden behandel word. Die hele roosboom kan nou ook met kalkswael gespuit word.

Kombuistuin (Kruie, Groente & Vrugte)

Dit is nou te laat om druiwe te snoei, maar ander bladwisselende vrugtebome kan nog gesnoei word solank hulle nog nie in bloei is nie. Indien hulle klaar gebot het, is dit te laat om te snoei. Alle vrugtebome sal nou baat vind by ‘n doses Ysterchelaat van Starke Ayres. Maak seker dat sitrusbome wat vrugte dra nou genoeg water kry en dien elke maand organiese 3:1:5 van Talborne Organics toe.

Kruisement en Afrikaners kan tussen groente geplant word om plantluise weg te hou. Koolgroentes begin nou einde toe staan. Haal die wortelstokke uit sodra die groente klaar geoes is en berei die grond voor vir somergroentes. Gee ertjies gereeld kunsmis sodat hulle mildelik kan dra. Pluk soos die ertjies gereed is om seker te maak die plante hou aan met peule produseer.

 

Vita Fruit & Flower 3 1 5
Strawberries

Aarbeie begin nou ryp word en daar moet gewaak word teen slake, voëls en veldmuise wat ook wild eel hê in die oes. Plant laagroeiende ment soos polei (Mentha pulegium) of Koriaanse ment (Mentha requienii) tussen die aarbeie om insekte weg te hou. Ferramol is die enigste organise slakdoder wat tussen eetbare plante gebruik moet word. Plant nou bessies soos boysenbessies, youngbessie en loganbessies waar hulle ‘n ondersteuning sal hê vir die ranke. Plant aspersies en gee genoeg kunsmis om sterk groei aan te moedig.

Mango’s lietsjies en avokadopere moet een keer ‘n maand kunsmis kry en moet gereeld water kry sodat hulle nie uitdroog nie. Snoei grenadellaranke indien nodig.

Wenk:

In die komende lente mag insekte in die tuin weer problematies raak, veral muskiete raak ‘n irritasie as ‘n mens snags lekker in die tuin wil kuier. Oorweeg dit gerus om ‘n vlermuisboks in die tuin te installer – vlermuise help om die hoeveelheid insekte in toom te hou. Dit is die beste en mees natuurlike manier om van insekplae ontslae te raak.