Screen Size

Jou tuin in Junie


Die plant en versorging van hangmandjies
Hangmandjies kan baie plesier in die tuin verskaf en is veral geskik vir klein tuine of as daar 'n bietjie ekstra kleur op die stoep verlang word. Hangmandjies kan of met net een tipe plant geplant word, of 'n kombinasie van verskillende plante kan gebruik word. Jy kan ook kies om net eenjariges te plant of om dalk meerjariges te plant wat dan met eenjariges opgevul word en van tyd tot tyd vervang kan word. Die opsies is legio... Beplan goed wat jy in die hangmandjie wil plaas en kry die plante, groeimedium en mandjie gereed. 

Plante: Maak seker die plante wat saam geplant gaan word, het die selfde lig- en water-benodighede. Dit werk nie om skaduliewende en sonliewende plante of kaktusse en waterliewende plante in dieselfde mandjie te plant nie!

Groeimedium: Gebruik 'n goeie kwaliteit potgrond gemeng met 'n bietjie kunsmis, beenmeel en genoeg waterhoudende korrels soos EXLgel (dit is 'n produk wat help om water terug te hou sodat die potgrond nie te vinnig uitdroog nie). Jy kan ook palmveen van Starke Ayres as 'n groeimedium gebruik aangesien dit baie meer vog as normale grond hou.

Mandjie: Maak seker die mandjie is stewig en dat die klapperhaarvoering groot genoeg is.

Gaan nou so te werk:  
1. Maak die mandjie sowat twee-derdes vol met die groeimedium.
2. Plaas nou die grootste van die plante, verkieslik die meerjariges indien dit gebruik word, in plek en vul op met potgrond. Maak seker die plante word nie te vlak of te diep geplant nie. Druk die plante liggies vas.
3. Kyk nou waar daar leë spasies is wat met eenjariges opgevul kan word. Maak holtes en plant die saailinge versigtig. Druk liggies vas en maak die res vol grond. Indien verkies, kan jy kepe in die voering maak en saailinge aan die kante van die mandjie plant. 
4. Gee die mandjie goed water van bo en maak seker die plante sak mooi vas in die groeimedium. Plaas nou die mandjie vir 'n paar minute in 'n skottel of emmer met water om genoeg water op te suig sodat die voering en groeimedium deurnat is. 
5. Hang die mandjie op 'n geskikte plek waar daar genoeg lig of skadu (na gelang van die plante in die mandjie se vereistes) is vir die plante om te floreer. Maak sker die mandjie hang stewig en sal nie met die eerste wind afwaai nie.
6. Omdat mandjies van alle kante af aan al die elemente blootgestel word, moet dit gereeld natgemaak word.

 Vroeg Winter
In areas wat strawwe winters ondervind, is dit 'n besige tyd van die jaar waar seker gemaak word dat die gevoelige plante beskut en beskerm teen die koue sal wees. Die herfskleure in skakerings van geel oranje, roes en rooi is nou 'n plesier om te geniet in die tuin. Indien daar niks plante in jou tuin is met herfskleure nie, kan 'n paar nou of in die lente geplant word om seker te maak volgende jaar het jou tuin ook herfskleure. Winterblommende eenjariges wat nou spatsels kleur aan die tuin gee, sluit in Yslandse papawers, ridderspore, leeubekkies, Skotse gousblomme en petunias, terwyl inheemse meerjariges soos aalwyne en vuurpyle 'n welkome bron van nektar vir bye en voëls is.

Eenjariges: 
In die hoëveldtuine kan petunias geplant word aangesien daar nie meer reën in die streek verwag kan word nie. Gisiggies kan reg oor die land geplant word. Sleutelblomme (Primula malacoides) kan nog gesaai word of as saailinge geplant word. Alle winterblommende eenjariges kan elke week of elke tweede week met 'n vloeibare kunsmis soos Gwanoflo van Protek bemes word om sterk groei aan te moedig wat dan later sal lei tot meer blomme. Pronkertjies moet aanvanklik aan die stutte vasgemaak word. Wanneer hulle goed aan die groei is, sal hulle self vasrank. Gee meer gereeld water soos die plante groter word om seker te maak hulle ly nie aan watertekort nie.

Wenk  
Plant muishondbos (Plectranthus neochilus) om ongewensde honde en katte uit die tuin te hou. Meeste honde en katte hou nie van die reuk van die blare nie.
Copyright © Garden World 2018 - All rights reserved.  |  Privacy Policy