Screen Size

Jou Tuin in April

 

Op die hoëveld het die bladwisselende bome en struike in ons tuine se blare reeds begin verkleur. Herfs is nou hier en die aande word reeds koeler.  

Nou dat jou plante in ‘n rus periode gaan, is dit ‘n goeie tyd om plante wat geskuif moet word te verplant. Herbeplan jou beddings en kyk waar en watter plante nodig is om te skuif. Daar is ‘n paar goue reëls wat jy in gedagte moet hou om jou plante suksesvol te verplant. Die beste is om jou plante binne ‘n dag te skuif. Merk jou plant orientasie en verplant in dieselfde rigting sodat blare en takke wat nie gewoond was aan die noordelike son, nie nou skielik brand nie.

Sny jou plante wat jy wil verplant ongeveer ‘n derde terug – onthou jy verminder en versteur die wortels, so jy kan nie die bogrondse groei net so los nie. 

Die verhoudings moet dieselfde bly, en dan die laaste maar tien teen een ook die belangrikste – deurweek die grond van die plante wat jy verplant het baie goed met water. Jy moet ontslae raak van al die lug in die grond sodat die wortels weer in aanraking kan kom met die grond en nie uitdroog nie, en water uit die grond kan opneem.

As jy sensitiewe plante soos bv. gevestigde struike, palms of boomvarings skuif en jy bekommerd is of die skuif suksesvol gaan wees sal ek voorstel dat jy van EXLGel gebruik maak en die gat eers vol gel maak voor jy plant.

Dit is nou die regte tyd om jou tuin se winter kleur te beplan en hier praat ek nou spesifiek van die winter bolle. Die bolle word natuurlik winter bolle genoem omdat hulle in die winter en vroeg lente blom, alhoewel jy hulle nou al begin plant. As jy nog altyd winterbolle wou plant maar nie seker was waar om te begin nie, is daar wel ‘n klompie bolle wat ongelooflik maklik is om te probeer.

Ranunculus – Ranonkels is een van die gewildste tuin blomme. Hulle hou van ‘n volson area met goeie ryk grond. Ranonkels lyk ook ongelooflik mooi as dit in massa geplant word, is verkrygbaar in verskillende kleure wat wissel van pers, rooi, goud, room, pienk, ens. Dit is een van die min tipe blombolle wat aanhou blom as jy die blomme gereeld pluk of terugsny.

Hyacinthus – Hiasint / Naeltjie - Hiasinte hou nie van warm grond nie en moet dus later in die herfs geplant word. Bolle moet vlak geplant word en net-net met grond bedek word, moet ook nie langs warm geplaveide areas, in vol son of teen warm mure geplant word nie. Hiasinte blom eers later en is ook voortreflike pot of houer plante. 

Doen selfs goed op klippe sonder grond in water binneshuis. Slegs die wortels moet in die water gehuisves word. Hiasinte hou van halfdag of gefiltreerde son. Hiasinte is ook een van die plante wat ‘n unieke sagte geur het, veral laat in die middae en vroegoggend.

Narcissus – Affodil / Narsing  is een van die geliefste en bekendste tuinblomplante. Affodille is ‘n baie veelsydige blomplant en kan op verskeie plekke in die tuin geplant word. Doen goed in ‘n randakker, ‘n woudlandskap, in potte en kan selfs as sny blomme aangeplant word. Affodille word laat in die herfs aangeplant as die nag en grond temperatuur afgekoel het. Plante kan van min son tot baie son hanteer en binneshuis of buitenshuis gegroei word. 

As jy ‘n bedding het wat nie gereeld omgedolwe word nie, sal die Affodille / Narsing bolle jaar na jaar weer blom en floreer – veral die Flower Carpet Affodille.

Die geheim om sukses te behaal met winter bolle is goed gedreineerde los leemgrond, lae aand temperature en die regte benatting. Hadeco se Bol Voedsel is ook baie belangrik – jou bolle sal floreer as hulle die regte kos kry.  

Nou is dit ook die regte tyd om Namakwalandse Madeliefies (African Daisies) in die vol son te saai. Onthou om die saad met ‘n fyn sproeier versigtig vir die eerste twee weke nat te maak. Daarna kan jy die saad los om hulle af te hard, en een of twee keer ‘n week se water toediening sal meer as voldoende wees. 

Ek sou Talborne se Seedling Food ingewerk het – al die voedingstowwe wat nodig is, is in die produk en sal jou saailinge nie net sterker maak nie, maar vinniger laat groei en ook baie meer laat blom.    

     


Lekker Tuinmaak! 

JJ

Copyright © Garden World 2018 - All rights reserved.  |  Privacy Policy