Screen Size

Boomplantmaand

September is boomplantmaand. ‘n Mens hoef nie negatief te wees ten opsigte van die aanplant van bome nie, veral in klein tuine waar spasie beperk is. Daar moet egter altyd in gedagte gehou word om die regte boom op die regte plek te plant. Wees bewus van jou fondasies, riool en waterpype. Daar is baie kleiner bome vir die klein tuin wat nie wortelprobleme sal veroorsaak nie – voorbeelde is Dias cotinifolia (Pompom boom) of Heteropyxis natalinsis (Laventelboom).

Die vraag wat jy eintlik moet vra, is hoe gaan my tuin en my woonbuurt lyk sonder bome? Kom ons kyk na die waarde van ‘n boom. Ons almal het geleer dat bome vir ons suurstof verskaf – ja dis waar, maar daar is soveel meer! Bome koel die omgewing af, gee ons skadu, anker ons grond, verfraai en gee karakter aan ons stede, dien as windbrekers, bring voëllewe na jou tuin, en nog baie meer. Ek dink nie enige iemand kan ‘n tuin beplan sonder om bome in gedagte te hou nie. 
Johannesburg is een van die grootste mens aangeplante woude in die wêreld.

Hoe selekteer jy die regte boom vir jou tuin? 

Hier is wat jy ingedagte moet hou:
1. Het ek spasie vir ‘n groot boom of moet dit ‘n kleiner boom wees? Ja, sekere bome groei  baie groot en is nie gepas in ‘n meenthuistuin nie, onthou daar is kleiner boomopsies.
2. Daar is niks mooier as ‘n groot boom om karakter te gee aan ‘n groot tuin nie. As jy spasie het plant ‘n groot boom of twee – voorbeelde is Combretum erythrophyllum (Vaderlands Wilg) of Celtis africana (Wit Stinkhout)
3. Wil ek ‘n immergroen of ‘n bladwisselende boom hê. Immergroen bome, aan die sonkant naby aan jou huis kan veroorsaak dat jy ‘n baie koue huis in die winter het. Bladwisselende bome kan weer son in die winter deurlaat wanneer dit nodig is, en skadu gee teen ‘n brandende somerson.
4. Gaan dit naby aan plaveisel wees? Sekere bome lig plaveisel baie makliker as ander – hulle het ‘n meer oppervlakkige wortelstelsel. Kies jou tipe bome sorgvuldig.
5. Hoe dig moet die skadu wees – Wil ek graag tuin maak onder die boom of soek ek digter skadu vir ‘n bankie.

Die regte keuse van ‘n boom en die vereistes waaraan die boom moet voldoen sal bepaal hoeveel en watter variëteite jy met groot sukses in jou tuin kan aanplant. Kom gerus deur na Garden World gedurende Augustus en September en kry jou gratis kopie van “Tree Rooting Habits and their implications for the infrastructure of Rand Water”. 

Hier kan jy sien dat dit baie maklik is om bome aan te plant as jy ‘n ingeligte keuse maak - elke tuin kan doen met ‘n boom, of drie.

Aartappelmoere
Ons aartappelmoere vir die somerseisoen sal in die kwekery beskikbaar wees in September. Dit is baie maklik en lonend om jou eie aartappels te kweek. Aartappels hou van diep los ryk sanderige grond en van baie Stikstof. Organiese 5:1:5 kan in die grond ingewerk word wanneer jy jou aartappelmoere plant.

Meeste aartappelvariëteite sal tussen 2 – 4 maande neem voor jy dit kan lig. As jy in ‘n koue area woon, of as jy bekommered is oor laat ryp, kan jy die nuwe groei bedek om die plante te beskerm. Gras of strooi werk baie goed. Aartappels is baie geneig om fungussiektes op te doen, veral as die plante te veel water kry, of as die grond sleg dreineer. ‘n Riglyn is om jou aartappels een maal elke 10 dae goed nat te maak.  

Moet ek my plante voer, en waarmee?
‘n Vraag wat baie gevra word, is watter tipe kunsmis gebruik ek en wanneer moet dit toegedien word? Tuiniers wil altyd weet waarvoor die letters en nommers op die sakke is. Die nommers is die verhouding tussen N, P en K. N is Stikstof, P is Fosfate en K is Kalium. Sou jy ‘n kunsmis wou gebruik wat die blare van die plante stimuleer, moet jy een gebruik wat hoog is in die eerste nommer soos bv ‘n 7:1:3 of ‘n 4:1:1. ‘n 2:3:2 is ‘n ou bekende en getroue kunsmis, maar bevat meer fosfate wat die wortelgroei bevorder. Die laaste nommer is Kalium, en Kalium bevorder blom- en vrugvorming.

Die kunsmisse wat oor die algemeen bekend is vir blom- en vrugontwikkeling is 3:1:5, 6:1:5 of 8:1:5. ‘n Ander interessante eienskap van Kalium is dat dit die plantselle sterk maak en beskerm teen stres, soos bv. droogte, koue en hitte. Al drie hierdie elemente N, P, en K staan bekend as makro elemente. Dit beteken die plant neem baie meer daarvan op. Dan is daar ook mikro elemente nl. Kalsium, Magnesium, Boron, Mangaan, Yster, ens., en hulle kom in baie kunsmis-formulasies voor, maar in baie klein hoeveelhede. Mikro elemente, oftewel spoorelemente wat in engels as ‘Trace elements’ bekend staan, is net so belangrik soos die makro elemente. Hierdie mikro elemente maak dit vir die plante moontlik om die makro elemente op te neem maar die plante het dit in baie kleiner hoeveelhede nodig. 

Die letters SR agter die N:P:K staan vir ‘Slow Release’ of dan, stadig vrystellend. Dit beteken dat die kunsmis stadig aan die plant vrygestel word en sodoende sal die wortels van die plant nie maklik deur die kunsmis gebrand word nie.

Tuingroete!

JJ 
Copyright © Garden World 2017 - All rights reserved.  |  Privacy Policy